Mountain Mover – Retief Burger – 26 Julie 2020

Retief deel vanoggend met ons oor die masiewe berg van depressie en angs wat hom gevange gehou het vir ongeveer 15 jaar, en hoe God hom kom bevry het.

Hy gee sy preek die titel “Deur van Hoop”, gebasseer op Hosea 2.

Hosea ontvang ‘n opdrag van God om met ‘n prostituut te trou. Deur middel van hierdie askie praat Hy met sy volk, Israel oor hulle owerspelige gedrag. Hy praat ook direk met al Sy kinders oor die feit dat Hy keer op keer verlaat word deur ons wat ander ‘gode’ aanbid en bo Hom verkies. Ons draai ons rug op Hom en gee ons liefde vir iets anders.

Romeine 15:13 – Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Hosea 2:13-14 – Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte ‘n poort na ‘n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.

Depressie is somtyds ons woestyn. God lok ons in na die gebied van angs en negatiewe emosies. Dit is nie ‘n aangename plek om te wees nie. Wanneer ons in die woestyn staan sonder enige ander mense naby, word dit letterlik oorverdowend stil. So voel dit in ons woestyn. Ons begin God aankla, maar die oomblik wanneer ons ophou kla en ons ongeduld wys, kan God met ons begin praat.

Midbar is die Hebreuse woord vir wildernis en dabar vir praat. God wil met ons kom praat midde ons wildernis.

Ons dink vanoggend aan Job. God neem nie aanstoot deur ons emosies nie, maar daar kom ‘n dag wanneer Hy ‘n streep trek en sê: “Nou bly jy stil sodat ek kan praat.”

Die tyd waarin ons nou leef het God ons aandag, omdat mense angstig is oor die toekoms en die gevolg van ons inperking.

God noem dat Hy Sy volk in die woestyn gaan lok en in teerheid en liefde met haar sal kommunikeer. Retief glo dat hierdie tyd waarin ons leef een van die beste dinge is wat met die kerk kon gebeur het. Ons het in die verlede gemaklik geraak dat ander (leiers, pastore en mede Christene) namens ons praat. Nou is ons in ‘n situasie waar ons self met die Here moet kommunikeer en waarlik na Sy stem kan luister.

Die betekenis van genade is wanneer God Sy liefde openbaar aan ‘n owerspelige persoon. Hy wil ons liefde weer kom wen. Hy wil ons karakters kom vorm volgens Sy wil, en Hy verlang om ons dissipels te maak wat ander mense positief kan beinvloed. Hy wil die dal van Agor ‘n plek van hoop maak.

Retief glo dat, in sy geval, die depressie se oorsprong by perfeksionisme gevind kon word. Hy het dit moeilik gevind om homself te vergewe vir foute en het gelewe met ‘n vrees vir verwerping en mislukking.

Maar God bring vryheid. Perfeksionisme is sonde. Daar is trots wanneer ons standaarde te hoog is. Niemand is perfek nie. Ons moet nederig word en selfondersoek doen. Self moet sterf sodat God kan leef in en deur ons. Ons moet al ons mislukkings en sonde na Hom bring en deursigtig word sodat Hy ons kan kom heel maak. Ons hoop is in Hom alleen.

Tikvah is die Hebreuse woord vir hoop.

Johannes 10:7 – Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape.

Wat gaan ons die Here antwoord? Gaan ons die tou gryp (tou wat Ragab uit haar venster laat hang het met die hoop om gered te word) en bely?

Daar is net een ingang…Jesus.

 

Stuur kommentaar