Groei – Jean Symons – 7 Junie 2020

Ons almal wonder soms of ons effektief is in ons uitvoering van ‘die groot opdrag’ soos ons in Mattheus 28:19 lees.

Ons almal is dissipels wat ander moet fasiliteer om die eerste stappe te neem om by ‘n verhouding met God uit te kom. Die Evangelie van Jesus begin by die bekendstelling van God aan ander.

Eerste dag:

Mense vra dikwels ‘is God ‘n werklikheid? Hoe weet ek Hy bestaan?’ Hier is ‘n persoonlike benadering noodsaaklik. Jou getuienis is ‘n goeie afspringplek. Die tweede getuienis is die Bybel, waar ons lees van mense soos Paulus wat ‘n lewensverandering ondergaan het toe hy Jesus ontmoet. Die derde getuienis is die skepping. Ons kan deel van die detail en ekosisteme  en die wonder daarvan. Die vierde getuienis is ons biologie…die feit dat ons geskape is met soveel sorg en dat alles in ons liggame saamwerk as ‘n perfekte geheel.

Tweede dag:

Hierdie is die dag wat ons God se liefdes inisiatief behandel. God het die eerste tree gegee en met liefde Sy Seun geoffer. Dit is Sy liefdesverklaring aan elke mens.

Derde dag:

Wie is Jesus? Hier begin ons verduidelik van die drie-eenheid van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Jean gebruik graag die metafoor van water. Stoom, vloeistof en ys is drie verskillende vorms van water maar al drie is water. Net so is die Vader, Seun en Heilige Gees drie verskillende karakters wat een God vorm en ons kan ander bekendstel aan elke afsonderlike karakter van God. Johannes 3:16 verduidelik God se liefde en is baie duidelik daaroor dat ons gered moet word. Ons kan nie op ons eie wedergebore word nie. Dit is alleenlik deur God se liefde, genade en Jesus se offer wat ons in geloof aanvaar. Elkeen van ons het redding nodig. Jesus is ons redder.

Ons vra ‘hoe werk geloof?’ Jean gebruik die metafoor van ‘n kersgeskenk. Wat doen ons met ‘n geskenk? Ons neem dit, gebruik dit en dit word deel van ons lewens. Geloof is soos ‘n nuwe horlosie wat jy ontvang as geskenk. Jy sit dit aan jou arm en dit word deel van jou lewe.

Dag vier:

Johannes 1:12 – Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Wanneer ek die geskenk van geloof aanvaar kan ek met reg sê dat ek ‘n kind van God is.

Ons eerste week is die bekendstellings week. Die grootste metafoor  vir hierdie week vind ons in die Nuwe Testament in die boek van Lukas, waar ons die storie van die verlore seun lees. Die eintlike boodskap in hierdie storie gaan meer oor die liefde van ‘n vader as oor die verlore seun.

God wil die Vader figuur in jou lewe wees en verlang dat jy die ware liefde van ‘n Vader kan ervaar. Hy verlang dat jy weet hoe waardevol jy vir Hom is, ten spyte van jou foute.

Die grootste negatiewe faktor in mense se lewens is die afwesigheid van vader liefde en aanvaarding by hul biologiese pa’s.

God se Vaderhart is heeltemal verwyder van die van ‘n biologiese pa. God se kern is liefde.

Ons is geroep om fasiliteerders van ander se ontdekkingsreis na God te wees en ‘n pad saam met hulle te loop om die vreugde van verhouding met God te kan ontdek.

 

Stuur kommentaar